Riaan Murray se Pro Mania, Moolmans, Vaaldam

August 7, 2021

ANGLER

Juliet Welman

VENUE

Moolmans, Vaaldam

PROVINCE

Free State

ANGLER

Juliet Welman

VENUE

Moolmans, Vaaldam

PROVINCE

Free State

Super Cast en Sensation hengelaar, Juliet Welman, het op Saterdag 7 Augustus aan Riaan Murray se Pro Mania deelgeneem wat hy aangebied het te Moolmans, Vaaldam.
Die oggend met ons aankoms by die oewer was dit effens koud en het ek so klein vuurtjie aangesteek in die bola wat darem gehelp het om die hande redelik warm te hou met die afpak en al die voorbereiding alvorens ons begin hengel.


Robert het die vorige week ook op dieselfde oewer gehengel en ek het verneem dat die vis ook maar aan die min en moeilike kant was. Nogtans was ek opgewonde vir die dag se hengel aangesien ek ‘n groot gedeelte van die winter nie gehengel het nie as gevolg van werk asook die effek wat die koue op my hande het. Nieteenstaande al die omstandighede en die min vis het die dag wel baie lekker uitgedraai.
Ek het soos oudergewoonte ‘n paar balle gevoer op 65m met die hoop dat die muddies in die middag moontlik sou inkom om te wei. Met my ander stok het ek ‘n gemaklike gooi gemaak, ongeveer 110m. Winter hengel in sulke vlak water is maar ‘n “pos en los” plan vir my omrede die vis se metabolisme maar aan die stadige kant is.
Soos verwag was die vis baie stadig. Ek het die 65m maar gereeld uitgehaal en herlaai met tussenposes van ‘n half-uur maar niks gebeur nie. Net soos ek het al die hengelaars om my ook gesit en wag vir daardie enkele byt wat jou hart vinniger laat klop. Net Robert kry daardie enkele vis maar daar agter waar geen dame kan bykom nie. Op een stadium het ek albei stokke so vêr as moontlik gegooi sonder enige sukses.

Teen kwart oor twee besluit ek om weer een stok nader te bring na die 65m kol toe en daar te bly tot die hoeter blaas, dalk is daar ‘n muddie of twee wat daar voer. Ek gooi die stok in en gaan sit op die stoel langs die bakkie en dwing myself om te wag tot ek ‘n byt kry. Vyftien minute later wip my polisieman op en daar trek die lyn styf. Soos weerlig is ek by die stok en slaan aan, ek kan voel dit is verseker ‘n moddervis aan die anderkant van die lyn. Ek land ‘n mooi muddie en gooi weer dadelik die stok op dieselfde kol.

Ek besluit daar en dan en bring my ander stok ook nader. Onmiddelik kry ek weer ‘n vis maar ongelukkig ‘n geelvis van 43cm wat dit net nie maak nie. Net voor 15h00 kry ek weer ‘n byt en vang nog ‘n mooierige vis. Ek is in ekstase oor die twee vis wat ek kon land op so moeilike dag. Meer as die helfte van die hengelaars in my sone het nie eens ‘n byt gehad vir die dag nie. Weereens ‘n les te leer uit so moeilike dag. Moet nooit opgee nie. Veg tot die bittereinde.
Ek weeg 2 vis vir 1,290kg wat my ‘n 3de in die sone gee en ‘n algehele 6de plek vir die dag in die Pro Mania.

My plan vir die dag:

  • Gly-Rietvlei Strop met ‘n M2 sinker, Sensation se BAT No: 0.8 Hoeke met 10lb hoeklyne.
  • Ek hengel met Sensation se 12’6” Razor stokke en die Okuma Aventa Pro 5000 katrolle (110m).
  • Ek hengel met Sensation se 12ft Short Range Stokke met Okuma Aventa Pro 5000 katrolle (65m).
  • My hooflyn is die 5lb Geel Sensation Pro Series Carp lyn.
  • Voer: SvB X-Treme voer met mielierys in.

Stok 1 (65m)
Bo: Maggots
Onder: Geel Harde Gumtree Floatie
Op die Bol: Skoon

Stok 2 (110m)
Bo: Stuttafords Floatie
Onder: Garlic Oozer met Kariba Wurm
Op die Bol: Perdeby, Sniper & Legend

Weereens baie dankie aan my borge, Super Cast en Sensation vir julle puik produkte. Dit is ‘n voorreg vir my om te kan hengel. Ek dank ook Ons Hemelse Vader vir die geleentheid en goeie gesondheid wat Hy vir my gee om my geliefde sport te kan beoefen.