Robert maal Moolies

September 2, 2021

ANGLER

Robert Breedt

VENUE

Moolmans, Vaaldam

PROVINCE

Free State

ANGLER

Robert Breedt

VENUE

Moolmans, Vaaldam

PROVINCE

Free State

Super Cast en Sensation Hengelaar, Robert Breedt, hengel twee Saterdae na mekaar Pro Mania te Vaaldam, Moolmans oewer. Hierdie oewer is geleë regoorkant Leeuplaas. Weens die koue fronte wat in en uit beweeg oor die land, het dit ‘n groot uitwerking op die metabolisme van die vis en verander hulle wei-patrone van dag tot dag. Daarby speel lugdruk ook ‘n groot rol en het dit ‘n geweldige groot uitwerking op oewers waar die water redelik vlak is en die vis nie in die vlakker water kom wei nie.

Dit was ook so met ons onlangse besoek aan die gewilde Moolmans oewer, en moes jy baie geduld aan die dag lê om ‘n vissie aan die lyn te kon kry. Baie hengelaars kon ook nie daarin slaag om ‘n vissie aan die lyn te kry vir die dag nie. Die meeste hengelaars wat vis gevang het, was hengelaars wat redelik diep kon hengel. Gooi en los was aan die orde van die dag.

My gevolgtrekking van die twee dae is dat hengelaars baie ongeduldig raak as die vis nie op tempo byt nie en hulle te vining van aas verander. Jy moet glo in dit wat jy doen, en op sulke dae bereid wees om jou aas veel langer as normaalweg te los tot jy ‘n byt kry. Baie hengelaars hengel met stop-horlosies en glo daarin dat jy jou aas met spesifieke tussen-poses moet verander of eenvoudig net oor moet ingooi. Myself hengel glad nie met stop-horlosies nie, dus kan ek meer geduld aan die dag lê en ‘n bietjie langer wag vir my vis.
Op Saterdag 31 Julie sit ek net regs van boompie alleen en met die 7de Augustus se Pro Mania sit ek ongeveer 200m van die regterkantse lyndraad af. Albei dae se weer was uitstekend en redelik warm, maar met die min wind wat gewaai het, het die vis ook besluit om nie gebyt nie. Oorkant op die Leeuplaas oewer kan ons ook hoor hoe die hengelaars kla dat die vis aan daardie kant ook nie aan die byt is nie.
Op albei dae vang ek 3 vis vir die dag wat my elke keer ‘n sone wen gee en ‘n individuele 3de plek en 2de plek onderskeidelik oor die twee dae. (3 Vis = 2,557kg en 3 Vis = 2,610kg) Afstande het gewissel tussen 135m en 150m.

Wat vir my gewerk het oor die twee dae:
Gly-Rietvlei Strop met M2 sinker, Sensation se BAT No: 0.8 Hoeke en 10lb hoeklyne.
Boerstrop met P4 sinker, Sensation se BAT No: 1 hoeke en 10lb hoeklyne.

Hengel met Sensation se 13ft DC Lite Stokke en die Okuma Aventa Pro 5000 katrolle. My hooflyn is die 5lb Geel Sensation Pro Series Carp lyn.

Voer: SvB X-Treme voer met ‘n bietjie wit mielierys in.

Rietvlei
Bo: Gumtree floatie
Onder: Juana floatie met soet wit degie
Op die bol: Perdeby, Legend en Black Widow

Boerstrop
Bo: Maggots met wit degie agter
Onder: Maggots met geel Garlic/Amandel degie agter
Op die bol: Skoon

Besonderse dankie weereens aan my borge, Super Cast en Sensation vir julle puik produkte en dat julle in ons as hengelaars glo. Wat ‘n voorreg is dit om te kan hengel en om my geliefde sport te kan beoefen in ons Ons Hemelse Vader se natuur. Dankie ook vir die gesondheid en die geleentheid wat Hy vir ons bied om ons geliefde sport te kan beoefen.