Klipdriftdam, ’n dam met ’n persoonlikheid!

Jaco Kruger -

April 20, 2022

FEATURED GEAR
  • Sensation Short Range Tactical 8’0″ & 10’0″
  • Okuma Aventa 5000
  • #2 BAT Chinu Hoeke
  • Sensation Pro Series Carp Line High Visibility Yellow

Ek het tot dusver al 11 Pro Mania’s gehengel, waarvan 10 daarvan by die befaamde Klipdriftdam was. Nou hoekom juis Klipdriftdam? Dit is dan die dam wat al vele protea hengelaars gemaak of gebreek het! Soos oom SVB sal sê: “Dit is ’n dam met ’n persoonlikheid.”

So hoekom het ek belsuit om Klipdrift so baie te hengel? Daar word nie baie Pro Mania’s gehost nie en ek het gedink dis die ideale geleentheid om my nuwe hengeljaar af te skop by ’n oewer wat vir my effens “onbekend” is. Ek het verlede jaar baie by Jackie Leonard gehengel en ek het baie gekondisioneerd geraak het Jackie. My aanslag vir my 2022 kompeterende jaar was om my fokus effens vanaf die “muddiehengel” te skuif na iets heeltemal anders. Ek het my eerste Pro Mania die 15/16 Januarie daar aangebied waar sakke van gemiddeld 40 vis uitgekom het, waarvan die meeste 74 vis vir net oor die 30kg was. Effens ongehoord vir ’n dam soos dié, maar wat het ek by Klipdrift geleer dusver?

Die vissies was baie fluks en hulle het die aas met mening opgetel. Afstande vanaf 65m tot 95m was die beste afstande. Dit is die ideale afstande vir my Sensation Short Range Tactical 8ft en 10ft! Die oewer kan soms ook baie “spotty” wees en wat ek hierdeur bedoel is dat 75m dalk ’n goeie afstand sal wees op een pen, maar dat dit met 10m onderskeidelik kan verander van pen-tot pen. Ek dink die eenvoudige rede hiervoor is dat dit ’n baie vlak dam is en dat die bodem klipperig is, so die vissies is baie kieskeurig oor hulle weiplekke. Die grootste uitdaging was-en ek glo is steeds- om die vissies uit te kry. Dit is nie as gevolg van vashakplekke nie, maar omdat die vissies se bekkies baie sag is en die hoeke baie maklik uit hulle bekke kom/uitskeur. So hoe het ek hierdie uitdaging oorkom?

  1. Hengel met groter hoeke. In plaas daarvan om met nr. 1’s te hengel het ek dadelik oorgegaan na my nr. 2 BAT hoeke. Dit het ’n aansienlike verskil gemaak!
  2. Hengel met swaarder gewigte. Waar ek oor die algemeen met M1’s hengel, het ek besluit om met M 1’s of selfs M2’s te hengel. Dit het gesorg vir ’n beter “hookset”.
  3. Hengel met ’n baie sagte “drag”. Omdat die vissies so agressief eet, help dit dat wanneer hulle die aas optel en “run” dat die hoekie nie uit hulle bek skeur.

Klipdriftdam het aansienlike groot babers en hulle kan enige tyd jou karp-asies optel. Dit het tot dusver al 3 keer met my gebeur dat ’n baber my Garlic oozer optel en dan is dit ’n lang, stresvolle geveg om net na 45min die geveg op 5lb lyn te verloor. Aangesien daar op kort afstande gehengel word is dit raadsaam om eerder met 8lb lyn te hengel om sodoende ’n beter kans te staan op die geveg.

Met die seisoen wat gedraai het verander die vis se gedrag en weipatrone gewoonlik saam dit, maar hoe drasties het dit verander? Sal die vissies steeds so fluks die aas optel of het Klipdrift weer haar persoonlikheid terug gekry? Ek het onlangs weer ’n dubbel Pro Mania by Klipdrift gehengel en dit was ’n taamlike moeilike naweek. Die gemiddeld sak vis het gewissel tussen 10 en 15 vis, waarvan die wensak slegs 27 vis was. Ek het verwag dat die vissies se weipatrone sou verander het, maar só drasties het ek nie verwag nie. Die vlakker afstande (75m – 95m) was nie “fireworks” by my nie, daarom het ek besluit om die dieper afstande (115m – 135m) te hengel. Wat vir my baie ironies was is dat daar steeds penne is wat op die korter afstande vis gekry het teen ’n goeie tempo. Om ’n voorbeeld te gee: op bv. pen 8 het die hengelaar 75m en 85m onderskeidelik gehengel en hy het 25 vis vir 12.4kg geweeg, maar die hengelaar wat op pen 9 gesit het, het heeldag op 125m en 135m gehengel en hy het 27 vis 12.9kg geweeg (ook nie ’n aansienlike verbetering in visgrote nie). Ek weet dit is redelik vroeg in die nuwe seisoen om te bepaal wat die beste plan van aksie is, maar gelukkig het ek nog ’n hele paar Pro Mania’s wat voorlê vir die wintermaande om dié vraag te beantwoord.

Ek moet afsluit deur te sê dat Klipdriftdam op die oomblik in ’n siklus is wat besonderse kwantiteit maar ook kwaliteit vis lewer. Dit verbeter jou hengelvermoë deur heeltyd uit die boks te dink!

GET MORE TIPS